Noodsaaklike Toerustingskursusse vir elke Gelowige
Filadelfia Opleidingsentrum
Filadelfia Opleidingsentrum

Filadelfia Opleidingsentrum
Filadelfia Opleidingsentrum

TUIS

VOORDELE VAN DIE FILADELFIA PROGRAM



AGTERGROND

Filadelfia Opleidingsentrum het in 1994 begin as 'n ondersteuningsgroep vir dames met spanning en depressie. Vanuit die staanspoor het Filadelfia gefunksioneer as 'n interkerklike, nie-winsgewende dienswerkorganisasie. Na 'n paar jaar het verskillende vertakkinge van die werksaamhede ontwikkel waarvan die opleidingsbeen die mees prominente geword het. Dit het voortgespruit uit 'n behoefte aan opleiding van leke-beraders om diensbaar te wees in eie gesin, gemeente en gemeenskap, weens die kulminerende persoonlike-en maatskaplike probleemareas, stressors en trauma in ons land. In 1997 voltooi die eerste nege studente die eenjaar Sertifikaatkursus in Bybelse Berading wat by die Buro vir Voortgesette Onderwys van Vrystaat Technikon geakkrediteer was. Belangstelling in die kursus het vinnig toegeneem.

Vanaf die jaar 2000 is 'n tweede jaar Hoër Sertifikaatkursus in Bybelse Berading ook aangebied. In 2003 is samesprekings begin met die Teologiese Fakulteit van Noordwes-Universiteit, ons kursusmateriaal is deur hulle geëvalueer en op graadstandaard bevind. In 2011 het Filadelfia met Miami International Theological Seminary (MINTS) bande gesmee om wettiglik 'n erkende geakkrediteerde Sertifikaat, Hoër-sertifikaat, BA graad en nagraadse kwalifikasies te mag uitreik.Vandag kan ons met trots 'n unieke Christelike beradings kursus in Suid-Afrika (en internasionaal) aanbied. Filadelfia Opleidingsentrum is die enigste Christelike beradings opleidingsentrum in ons land wat geakkrediteerde Christelike Berading kwalifikasies kan aanbied wat uitloop op registrasie.Firmas in die korporatiewe mark, skole, kerke en verskillende dienswerkorganisasies begin gegradueerde Pastorale Beraders aanstel om die toenemende individuele-,algemene verhoudings-, huweliks- en finansiële krisisse aan te spreek.

Die akademiese visie van Filadelfia Opleidingsentrum is om studente op te lei in Christelike Pastorale Berading en Toegepaste Bybelonderrig, ooreenkomstig nasionale akademiese- en registrasie vereistes. Die praktykgerigte visie van Filadelfia Opleidingsentrum is om studente te lewer wat self in oorvloed en in oorwinning in Christus leef, asook maksimaal toegerus is om seer en stukkende mense te begelei tot innerlike genesing. Die ondersteuningsvisie van Filadelfia Opleidingsentrum is die lewering van professionele berading- en algemene fasiliteringsdienste aan kliënte tot meer effektiewe hantering van hul probleemomstandighede, innerlike genesing en daaglikse oorwinning in Christus.